Kunswerke vertel verwikkelde stories

No Fixed Abode
Marilyn Martin | Die Burger. 4 September 2014

Die kurator Candice Allison se uitgangspunt met hierdie tentoonstelling is die konstante rondbeweeg van ­kunstenaars, voorwerpe en kurators, asook die uitruil van inligting, idees en konsepte wat die eietydse, glo­bale kunswêreld kenmerk.

Sy het kunstenaars betrek vir wie die definisie van huis en haard nie vasgestel of veilig is nie, maar eerder kortstondig en veranderlik.

Almal is uit Afrika af­komstig; etlikes is Suid-Afrikaner; ander het hul tuistes om verskeie redes verlaat en hulle hier of elders gevestig; party behoort aan meer as een land of reis gedurig. Persoonlike reise, ervarings en oogpunte kring uit na kwessies rondom herkoms, ras, identiteit en nasionaliteit.

En versperrings, want nie almal kan vrylik rond­beweeg nie. Hierdie aspek word vasgevang in Dineo Seshee Bopape se allerkleinste lappie borduurwerk met die woorde “I didn’t cross the border, the border ­crossed me”, en Barthélémy Toguo se beeldhouwerk “The New World Climax (Inégalité)”. Op ’n houttafel lê ’n groot “amptelike” stempel met die woord inégalité (ongelykheid) daarop uitgekerf en met ink besmeer, maar dit is eintlik ’n borsbeeld, met ’n gesig sonder karaktertrekke na die tafel gekeer.

Serge Alain Nitegeka som die ongelykheid waaraan party reisigers onderwerp word op met sy monumen­tale “Door Installation: ­Alternative Entry VII”, terwyl Dan Halter se “The ears of the hippo” die gevaar en vrees wat die oorsteek van die rivier na Suid-Afrika inhou, realisties en onomwonde uitbeeld. Die plankvloer van die museum is die ­water, die klipbeeld van ’n vrou met ’n baba op haar rug en ’n geruite Afrika-reissak op haar kop is kniediep in die water; ’n klipkrokodil en ’n seekoei bekruip hulle van agter.

Soveel werke herinner aan verlies, onsekerheid, af­wesigheid en verlatenheid, eerder as die lekkerte van reis en die opwinding van on­bekende plekke. In Mo­shekwa Langa se video ­“Where do I begin” sien ’n mens ­dieselfde voete en onderbene, netjies aangetrek, wat oor en oor op ’n voertuig klim ­terwyl die klankbaan die eerste lyn van die bekende lied herhaal.

“Last Supper, Manley Villa”, die foto’s van die laaste maaltyd in die huis van die Ebrahim-familie in Distrik Ses, wat Sue Williamson in 1981 geneem het, spreek steeds van vernietiging, tragedie en hartseer. Jy staan verstom voor die “Beëindiging van Okkupasie” wat op 30 September 1981 uitgereik is. Die foto wat Williamson in 2008 van die verlate landskap geneem het, is ’n aanmaning dat die wond dalk nooit sal genees nie.

Tuiste is nie noodwendig goed of mooi nie. David Goldblatt se foto vertel van Anna Boois wat haar groentetuin in Namakwaland moes verlaat, want daar was nie meer water nie. Uit ­Jacques Coetzer se video van die eentonige, siellose Cluster Park-ontwikkeling kom die weeklaag van ’n mondfluitjie en ’n blues-harp.

No Fixed Abode werp ’n nuwe blik op die The New Church Museum-versameling en is aangevul met werke op bruikleen. Só maak ­besoekers kennis met ­kunstenaars uit Benin, Burundi, die Kameroen, Madagaskar, Mosambiek en Zimbabwe. Die vermoë van kuns om verwikkelde stories te vertel word treffend in hierdie tentoonstelling verken.